Shop

September sing ‘n lied.

Son en lente…uiteindelik! Dit was ‘n lang winter. ‘n Koue winter. Hardekool houtstompe in die stofie, baie moue aan. Boontjiesop wat prut-prut praat in die koue kombuis aan die suidekant van ons ou huis.

Maar nou is dit verby. Die lig val soggens vroeër oor die kombuisvloer, die nagte is nie meer so bewekoud nie. Daar hang drie vinkneste aan die moerbeiboom by die braaivleisplek en in die voortuin aan die karee se dunste takkies wieg nog ‘n nessie in die wind. ‘n Louwarm sonstraal val vrolik deur die liggroen blare. Goudgeel vinke werskaf en woel , fluit hul liedjies lentebly.

Skielik blom al die aalwyne in sag-oranje , die roosbome begin uitloop: broos en blink bot die blaartjies. Ons hang steeds vars lemoenskille vir die glasogies aan die appelkoosboom se takke by die agterdeur. Die perskeboom trek haar pienk rok aan.
Teen skemeraand spring ‘n skurwepadda en sy maat oor die plaveisel. Hulle hop die lente jubelend in. Akkedissies glip en gly tussen die klippe naby die fontein, bak in die son en verdwyn.

‘n Ongekende lewenslus neem onverwags en skielik van my besit: ek wil buite wees. Ek wil die son op my kaal arms voel, my vingers in die goeie grond druk, ek wil tuin maak, plant en saai en natlei. Ek wil daagliks die duisend goeie gawes wat ons so onverdiend uit God se hand ontvang, geniet en benut en koester. Ek wil dankbaar en uitbundig lewe en ek wil dit deel met almal wat op my pad mag kom.

Elizabeth Kendall ©

Currently unavailable for purchase



Ek deel wat nou op my hart lê, lekker lees! ;-)

Tags

afrikaans, spring, words, season, joy, weavers, birds, flowers, elizabeth kendall

We are each gifted in a unique and important way. It is our privilege and our adventure to discover our own special light.

View Full Profile

Comments

  • Pieta Pieterse
    Pieta Pietersealmost 3 years ago

    Baie mooi en lekkerlees geskryf! Maar ek moet dit visualiseer, want in die Kaap is dit bitter koud en nat!

  • Gelukkig skort daar niks met jou verbeelding nie! Baie dankie Pieta!! ;-)

    – Elizabeth Kendall

  • Maree  Clarkson
    Maree Clarksonalmost 3 years ago

    Uitstekend uitgebeeld en presies nes ek voel! Ek wil ook dankbaar en uitbundig lewe, in die grond vroetel, my verfkwas gryp en alles wat voorkom, uitbeeld! Dit is so ’n wonderlike tyd van die jaar hierdie Liz, en jou mooi woorde bring dit tot binne ’n mens se hart, dankie vir die mooi-skryf wat jy vanoggend vir ons gepos het!

  • So bly jy het geniet Maree en so lekker om te deel, mag jou lewenslus ook weer nuwe vlerke kry in hierdie somer!!

    – Elizabeth Kendall

  • Rina Greeff
    Rina Greeffalmost 3 years ago

    Ai, hoe heerlik ‘aansteeklik’ is hierdie jubelgeskrif ! – ons is almal ooparms-bly én reg om die lente te verwelkom, dink ek!

  • Klomp dankies Rina!! Verseker….het myself voorgeneem om dié somer nooit te kla as dit dalk ver verby vuurwarm mag raak nie! ;-)

    – Elizabeth Kendall

desktop tablet-landscape content-width tablet-portrait workstream-4-across phone-landscape phone-portrait