Nenna

Lettie maak ’n holte in die middel van die meel-en-soutmengsel en voeg die suurdeegmengsel daarby. Sy knou en knie dit goed totdat die deeg mooi skoon afkom van haar hande. Boervrouhande, jong sterk hande, as dertig nog jonk is. Voeg die orige lou water bietjies-bietjies by terwyl sy die sagte varkvet goed deurknie.

Knietyd is dinktyd. Baklei-tyd. Deurmekaarkop-skoonmaaktyd.

Sy gooi die brosbruin gemaalde kaiings by. Knie dit weer baie goed. Haar arms word nie meer lam soos in die begin nie. Kaiingbrood bak so ’n uur in die buite-oond. Sy knip die gietysterdeurtjie oop en pak die lang brode mooi in die middelhitte.

Dit gaan ’n moeilike week wees. Dit gaan ’n moeilike jaar wees. Alleenwees is moeilik.

Die korhaan het al vanoggend vroeg geroep. Dit gaan reën.

Toe sy terugstap opstal toe, kry sy vir Nenna teen die groen sederhoutdeurkosyn sit lees. Plaas help die kind haar pak. Dis hoekom sy hierdie week hier by haar kom bly het. Om haar te help om haar lewe uit te sorteer.

Lettie is halfpad in die gang af op pad kombuis toe, toe dit tot haar deurdring: dis haar bêre-doos!

“Nenna! Waar kry jy dit?”

Die kind kyk skuldig op.

“Heel onder in oom Danie se hangkas, toe ek besig was om sy klere uit te soek en op te vou.”

Lettie gaan sit plat op die steenpatroon van die kleivloer, langs die kind met die blas vel, fyn gelaatstrekke en donker krulkop.

“Dis briewe van…”

Lettie tel die geblomde houer op haar skoot en asem haar verlede diep in: liefde soos ’n bruisende bergfontein, dagdrome vol jongmenshoop, laatnag maanskynwandelinge deur dragtige vrugteboorde, pit-vir-pit granate eet, skelmpies briewe met gansvere skryf, knus donskombersdae, kerfies biltong , saamkarring aan bokmelkbotter, yskoue heuningbier op ’n soel somersdag, die geur van gebrande koffiepitte, spatsels reenboogkleure van kalwerliefde, die saligheid van saamwees… en ’n troebel plaasdam vol verlange.

“Ousus, dis pragtig! Hoor hierdie een…”

Sy vou ’n brosgeel velletjie papier versigtig oop. Die bruin hoekies brokkel.

“Een verteerd blik heeft mijn gelei-lam knieën onder mijn uitgeklits.
Een sielsboodskap, zonder woorden,
buitelingen toen mijn hartsdeure open, zodat je erin kunt lopen.
Een enkele kijken heeft mijn binnenkant summier omgedop en uitgeschud.
Mijn leven was perfect puzzel-ingeskik,
nu heb je het eensklaps holderstebolder zomaar verward krassen.”

Lettie ken elke woord uit haar kop uit. Dis in haar hart uitgekerf.

“Het verstand probeert het met zeden, redenen en juiste staken
maar mijn hart is een rode warme lugballon die net hoger blijven zweven.
Sinds wanneer is liefkry dan ook zo hopeloos verlangend seer?
Hoe kan gezellig de buurt zijn dan ook zo godverlate en veraf voelen?
Wat anders maak je zo borst tjokvol en je ziel zo weerloos teer?
Kan je ogen tegelijkertijd tranen van verdriet en van vreugde spoelen?
Ik had niet beseft dat een ziel zo broos en brokkelsag is.
Ik wist niet dat een mens zijn hart kan zoveel keren breken!
Wellicht heb je het nooit zo bedoeld, maar die je niet wist:
een splinter-spatsel van mijn hart het in je oog gestoken …”

Nenna lees goed vir haar ouderdom. Sy is skrander, dis so jammer dat sy nooit meer sal wees as ’n kamermeisie nie. ’n Huisbediende. Lettie was vir haar soos ’n ouer suster, die ander kinders in die gesin was soos haar broers en susters. Daar is vir haar geen toekoms in hierdie land nie, sy het geen menseregte nie. Sy sal altyd ’n weggooikind bly, al is sy grootgemaak soos ’n rykmanskind. Sy kla nooit, maar Lettie kan partykeer die drome in haar oë sien. Al die ander jongmense gaan skool toe, gaan katkisasie toe, hou somerpieknieks, doen volkspele en dans elke Oujaar dat die misvloere stof opskop.

Net Nenna nie. Sy sal nooit eers Nagmaal mag gebruik nie. Gaan net altyd saam om die kinders op die lang pad op die ossewa en dan buitekant die kerk op te pas. Sy het die ABC, die AB-jab en die Trap der Jeugd self baasgeraak terwyl sy al om hulle afstof, as die ander kinders by die groot eetkamertafel sit en sukkel om te lees, skrywe en reken. En as hulle sing, het haar suiwer stem tussen almal s’n uitgeklingel.

Saans, as hulle boekevat, het sy vir hulle by kerslig uit die ou groot Statenbijbel gelees voor hulle in die kooi gaan klim. Nenna se gunsteling Bybelstukkie is 1 Korinthiers 13: “De liefde vergaat nooit niet… Nu ken ik slechts ten dele, maar alsdan zal ik volledig kennen als God mij ten volle kennen. En nu: geloof, hoop en liefde blijven, deze drie. En de grootste hiervan zijn de liefde!”

Sy vou die liefdesboodskappie weer netjies op sy voutjies.

“Ousus, is dit ‘n brief van oom Danie aan jou?”

“Nee… oom Danie was lief vir my, maar hy sou nooit so iets geskryf het nie! Hy was, soos die Ingelse sê: sommer net prim en propper!”

Hulle giggel.

Tot sy dood was haar ou man net goed vir haar. Skatryk. Altyd bedagsaam, sy het nooit ’n tekort aan enigiets gehad nie, hy het nooit skeef na haar gekyk nie en nooit ’n harde woord laat val nie. En sy was ‘n “goeie vrou”; altyd netjies, sy het geleer om lekker kos te maak, die huis was skitterskoon, die kinders eenkant en op hulle plek, sy kan slag en karring en konserf maak en seep kook, maak spoggerige donskomberse, sy het boonop nooit teruggepraat nie, sy het nooit gekla nie. Sy het hom op die hande gedra soos dit vereis word en hom baie bederf. Dit was ’n afgesonderde lewe, dit was soms eentonig, en die depressiejare en oorlog was nie maklik vir ’n jong vrou nie.

As sy in ag neem dat hy haar “gered” het en haar nooit laat voel het dat sy vir hom ’n oorlas of verleentheid was nie, moet sy hom vir ewig dankbaar wees. Dit was ’n gereelde troue. Hy was ’n wewenaar. Sy was ’n jong wederstrewige. Hy was 81. Sy was 18. Haar ouers het gereken dat dit haar sou tem.

Jy kan nie liefde tem nie.

“Ousus, die datum op hierdie brief is dieselfde jaar as waarin ek gebore is. Dis twaalf jaar terug! Dis geskryf voordat jy en oom Danie getroud is. Van wie was dit?”

Lettie onthou nog die dag toe hulle mekaar raakgekyk het. Dit was liefde met die eerste oogopslag.

“Sommer iemand wat ek… geken het…. Moet jy nie nog die vuurherd gaan skoonmaak nie? En die lampies volmaak met olie nie? Die kaiingbrood is nou-nou klaar en dan is ons nog nie eers klaar met die pakkery nie, en jy wil sit en klets! Party van oom Danie se goed wil ek wegpak voordat die kinders van die skool af kom. Ons moet wikkel. En as daar nog tyd is voor dit reën, kan jy vir ons skuinskoek bak, terwyl die oond nog warm is. Die kinders hou daarvan saam met waatlemoenstukke en gemmerbier.”

Nenna pak die snuisterye terug in die oorgetrekte hoededoos en stap gang af slaapkamer toe.

“Wat het van hom geword?”

Lettie bly haar ’n antwoord skuldig. Dit voel nog steeds of haar hart saamgeklem word as sy daaraan dink. Na al die jare brand dit steeds in haar borskas. Sy was die slagoffer van haar eie emosies.

Die blompatrone en muurskilderye praat nie vandag met haar nie. Alles is stil. Die huis is stil sonder ‘oom Danie’. Hy was maar 93, maar was bedrywig en besig tot op die laaste. Boer, messelaar, timmerman, smit, wamaker, skoenmaker en transportryer. Hy was op datum met wat in die land aangaan, hy het graag vertel toe Paul Kruger president geword het. O ja, hy het smaaklik gespog oor die slag van Amajuba. Hy het geweet wanneer die eerste spoorlyn na Kimberley geopen is. Hy het staaltjies vertel van die Johannesburgse goudvelde. En na sy dood, daarna, tot die dag na die begrafnis, was die huis gedurig vol mense. Familie en vreemdes.

Tot nou.

Nenna pak die laaste kisklere weg. Sy sal volgende week teruggaan na Pa Niek en Ma Johanna toe, die oumense kan nie so lank sonder haar klaarkom nie. Sy weet dis nie haar bloed-ouers nie, maar hulle het haar soos hulle eie grootgemaak. En sy is in die testament. Hulle was vir haar lief vandat hulle haar die eerste oggend by die voordeur gekry het. In ’n mandjie, warm toegewikkel in ’n sagte pienk flenniekombersie. Dis wat hulle haar vertel. As sy vra waar sy vandaan kom. Ma Johanna sê daar was tot ’n huisie knoffel om haar nek vasgebind. Om bose geeste weg te hou. En daar was ’n kort briefie by. Dat hulle haar asseblief mooi moet oppas, en vir haar moet lief wees. Maar daar was ook kinders op die dorp wat gespot het en haar woorde toegesnou het. Basterkind. Mestizo. Voor in die Statenbijbel is ’n stamboom met al die voorvaders en kinders se name in, maar haar naam is nie in sierskrif daarin geskryf nie. Sy sal altyd wonder wie haar regte ouers is. En hoekom hulle haar weggegooi het. En hoekom sy nie ook familiename kon kry nie.

“Ousus, kan jy nog onthou toe julle my gekry het?”

Lettie onthou. Sy glimlag sag.

“O ja, jy was die mooiste babatjie wat ek nog gesien het!”

Groot blou ogies en lang sagte donker krulletjies. Ligroos tuitbekkie. Fyn stokkievingertjies en krultoontjies…

“Ousus, partykeer wens ek dat jy my ma was… “

Lettie onthou die kere dat die vroedvrou moes uitkom plaas toe met die perdekar. Vier keer. Die kinders was net ’n jaar uitmekaar uit. Omdat Danie ‘n ou man van 81 was, het hy gereken dat hulle nie moes wag met kinders nie. Hy wou hulle nog sien grootword. Die vroedvrou het elke keer so drie maande lank na elke geboorte gebly om haar te help om die babas te versorg. En haar geleer van heuning in die babas se waterbottels, en wildeals vir suur, meelpap vir inflammasie. En soetolie vir oorpyn… dis seker hoekom haar kinders so soet was! Sy was lankal vaardig genoeg, maar haar koppige ou man het volgehou dat sy die rus en hulp nodig het. En haar gemaak nog tien dae na die kraam in die bed bly. Dit was heerlik, want dan kom sy die sagte babalyfie die heeltyd by haar hou en bietjie vergeet van die huishouding. Dit was koestertyd.

“Dink jy my Mamma was so lief vir my soos wat jy vir jou kinders is?”

Lettie antwoord nie dadelik nie.

Sy onthou…

Die blou-blou oë wat haar knieë lam gemaak het, haar hart holderstebolder laat bollemakiesie slaan het. Sy teer blik. Hoe sy sagte aanraking haar asem weggeslaan het. Sy onthou hoe haar hart tot barstens toe geswel het. Die koesterende warmte van sy omhelsing. Die heelheid van hoort. ’n Stukkie hemel wat hang op aarde…

Sy onthou die dag toe Pa Niek hom eenkant toe geroep het. Dit was ‘n dag waarin sy nie gelag het nie. Dit was ’n verlore dag. Toe die lewe haar op haar knieë gedwing het. Toe sy agtergekom het dat ’n stukkende hart nog steeds kan klop.

Dit was haar verloor-dag. Mens kan nie teen die lewe se loop stry nie.

Sy kyk diep in die kind se blou-blou oë.

“Nee, Nenna… ek dink nie so nie. Ek weet!”

Veraf dreun die donderweer. Hulle moet die spieëls gaan toemaak…


Die dinge in ons SA Geskiedenis waaroor niemand praat nie…

Tags

genealogy, love

The world through my eyes: there is beauty in everything around us!

View Full Profile

Comments

  • filiola
    filiolaabout 3 years ago

    Ons het ons stamvaders al nagevors sover terug as 1544. Nanna / Nenna is gebore in 1926, distrik Lydenburg, Oos-Transvaal. Daar is ’n oop blokkie vir haar in ons familiestamboom. Haar regte name is aan ons onbekend, volgens die familiegebruik onder die Afrikaners behoort dit Johanna Christina te wees, omdat sy dan die oudste kleindogter aan moederskant was. Geen aantekeninge verskyn egter in die Hervormde kerk wat in 1927 gestig is, se doopregisters nie. Haar vader? Ons weet nie, dit is dinge waaroor daar nie in die familie gepraat word nie…

    Sy was haar lewe lank ’n huiswerker by blankes op Lydenburg. Ek sal graag voor haar wou sit en sê: “Weet jy wat? ONS is JOU familie !”

    Sy kan dalk nog leef…

  • Elizabeth Kendall
    Elizabeth Kendallabout 3 years ago

    ’n Aangrypende storie met soveel deernis vertel. Jou skryftalent ken geen perke nie Filiola, baie dankie dat jy dit ingestuur het na Afrikaans is my moedertaal Waardeer baie!

  • Maree  Clarkson
    Maree Clarksonabout 3 years ago

    Soveel onnodige hartseer in die verlede van ons land Filiola, en hoeveel mense is net nie daardeur geraak nie? Pragtige skryfstuk, dit het my diep in die hart getref…

  • Dankie vir julle kommentaar, die DEEL daarvan is die lekkerste !

    – filiola

  • Rina Greeff
    Rina Greeffabout 3 years ago

    Dít was ’n heerlike, dog hartseerlees, want enige mens wil tog weet van waar en van wie jou eie menswees afkomstig is. Pragtige werk, filiola!

desktop tablet-landscape content-width tablet-portrait workstream-4-across phone-landscape phone-portrait
desktop tablet-landscape content-width tablet-portrait workstream-4-across phone-landscape phone-portrait

10%off for joining

the Redbubble mailing list

Receive exclusive deals and awesome artist news and content right to your inbox. Free for your convenience.